Thursday, June 25, 2009

VUURWAPENWET: DEEL VAN KRUIPENDE ONTEIENING EN INTIMIDASIE TEEN WETSGEHOORSAME BURGERS?

PERSVERKLARING
TLU - SA NOORD - PIETERSBURG STREEKKANTOOR
TEL: 015 – 297 3749 / FAKS: 0866 180 781 / E-POS: marie@ntlu.co.za
DATUM: 22 JUNIE 2009
..........................................................................................................................................
VUURWAPENWET: DEEL VAN KRUIPENDE ONTEIENING EN INTIMIDASIE TEEN WETSGEHOORSAME BURGERS?

Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het groot besordheid uitgespreek oor die verwikkelinge wat spruit uit heraansoeke vir vuurwapenlisensies. Daar is letterlik ‘n ontploffing van dagvaardigings uitgereik deur die SAPD en selfs enkele arrestasies het in die Noordstreek voorgekom nadat aansoekers nie tydig volgens hul verjaardag kwartale aansoek gedoen het om hernuwing van hul bestaande, wettige vuurwapenlisensies nie.

WETTIGE VUURWAPENLISENSIES
Mnr. Japie Spanio, voorsitter van die Veiligheidskomitee van TLU SA Noord, het gesê dat dit belangrik om te onthou dat hier gepraat word van persone wat in besit is van ‘n wettige vuurwapenlisensie. Dit is nie kriminele wat onwettig vuurwapens gesteel het of besit nie. Dit is wetsgehoorsame burgers wat deur ‘n wet gekriminaliseer word. Daardie persone gaan op 1 Julie 2009 as kriminele gebrandmerk word SONDER dat daardie persone enigsins ‘n kriminele daad gepleeg het.

KRUIPENDE ONTEIENING
Mnr. Spanio het gesê dat die vuurwapen eienaars waarvan hier gepraat word, nie die vuurwapens gesteel het nie, maar dit wettig gekoop en gelisensieer het. Elkeen van die eienaars besit ‘n wettige vuurwapenlisensie wat deur die huidige regering in ‘n administratiewe proses van kruipende onteiening van wettige eienaars vervreem word. Die feit dat die SAPD weier om eienaars te vergoed vir wapens wat vernietig is of vervreem word deur die wet, kom neer op ‘n gruwelike skending van die bepalings in die handves van Menseregte in Hoofstuk 2 van die Grondwet. Dit is blatante onteiening sonder vergoeding en ‘n bevestiging van die feit dat politici en amptenary hulself verhewe ag bo gewone landsburgers deur wette daar te stel wat nie die belange van die burgery dien of die burgers se besware oor die implementering daarvan wil aanhoor nie.nie.

LAAT INDIEN VAN AANSOEK OM REEDS WETTIGE LISENSIE TE VERVANG TEEN GEWELDIGE KOSTE VIR WETSGEHOORSAME BURGERS
Arm mense en persone wat dit nie kan bekostig om aan die geweldige duur proses deel te neem nie, word nou blatant deur ‘n administratiewe proses benadeel en ontwapen. Dan moet die volgende in aanmerking geneem word t.o.v. die heraansoeke vir alreeds wettige vuurwapenlisensies:
a. Almal ongeag vorige ondervinding van vuurwapens moes ten duurste hul laat heroplei om bevoeg te wees.
b. Al die jagters moes aansluit by jagtersverenigings om hul vuurwapens, indien meer as 4 te kan behou. Toegewyde jagters benodig vir elke tipiese jaggeleentheid en wildsoort ’n doelgerigte vuurwapen van die regte kaliber. Daar word elke jaar groot uitgawes aangegaan om jaargelde te betaal en voorgeskrewe aktiwiteite by te woon ten einde toegewyde jagterstatus te kan behou.
c. Kostes t.o.v. vuurwapen Lisensies en stappe
Bevoegdheidskursus en sertifikaat R500.00; Bosveld jagters kursus R550.00; Toegewyde jagter status R200.00; Aansoek om bevoegdheid R70,00; Aansoek vuurwapen lisensie per wapen SAPD R70.00; Aansoek vir nuwe wapens per wapen SAPD R140.00; Jaarlikse jagtersvereniging ledegelde R500.00.
Die volgende kostes is nog nie verreken nie, nl. tyd, fotokopie, hernuwing elke 5 of 10 jaar, ammunisie, brandstof, neem van foto’s vir elke aansoek ens. Dus het dit ’n duur en tydrowende proses geword om lisensies te hernu sonder sekerheid dat dit wel toegestaan sal word.

Die jagbedryf is ‘n groot bron van werkskepping in die Limpopo provinsie en dit bring baie kapitaal van buite ons grense in. Waarom al die onnodige inkorting van bedrywighede om ‘n bedryf te kniehalter wat soveel ekonomiese aktiwiteite tot gevolg het en sodoende ‘n groot positiewe ekonomiese impak op die plattelandse gebiede het?

STAAT SELF ONBEKWAAM
Mnr. Spanio het gevra of die SAPD lede, die Minister van Veiligheid, Direkteur Bothma of die regering ook gekriminaliseer gaan word omdat sommige vuurwapeneienaars reeds drie jaar gelede aansoek gedoen het vir die sogenaamde hernuwing van wettige vuurwapenlisensies, maar NOG STEEDS NIKS van die SAPD gehoor het nie? Die Staat is in ‘n sosiale kontrak met die burgery. Dit vloei logies daaruit dat indien die kontrak verbreek word, soos wat deur die SAPD gedoen word deur burgers te kriminaliseer terwyl die SAPD self nie hulle deel van die kontrak nakom nie, dan sal daar weer na die kontrak gekyk moet word.

ONDERSTEUN ANDER ORGANISASIES
Mnr. Spanio het gesê dat TLU SA Noord, namens georganiseerde landbou, ander organisasies sal steun wat die drakoniese, duur en ongrondwetlike wetgewing beveg.

PRESIDENT KRIMINALISEER WETSGEHOORSAME BURGERS
Mnr. Japie Spanio het gesê dat mense, wat in vrede en harmonie wil leef en nog nooit misdaad gepleeg het nie, bloot deur die handtekening van ’n minister en die staatspresident na 1 Julie 2009 KRIMINELE word en in die tronk kan beland omdat hul eiendom besit wat hulle wettig bekom het.

DIREKTEUR BOTHMA – HOEKOM VANG JY NIE LIEWER KRIMINELE NIE?
Mnr. Spanio het sy verbasing uitgespreek oor Direkteur Bothma se verstommende arrogansie, aggressie en buitengewone onprofessionele gedrag. Hy het gesê dat die misdaad in Suid Afrika dramaties sal daal indien die agbare Direkteur dieselfde energie sou spandeer om gewelddadige kriminele, moordenaars en verkragters aan te keer in stede daarvan om wetsgehoorsame burgers wat belasting betaal, en by implikasie sy salaris, te kriminaliseer en te vervolg. SAPD lede kla dat waardevolle tyd spandeer word aan die uitreiking van dagvaardigings wat hulle verhoed om hulle werk te doen en die publiek veilig te hou.

DIREKTEUR BOTHMA – VERANTWOORDELIK GEHOU VIR PLAASAANVALLE?
Mnr. Spanio het gevra of Direkteur Bothma verantwoordelikheid sal neem indien ‘n persoon ‘n vuurwapen moet inhandig agv die drakoniese wetgewing en daarna wreedaardig deur plaasaanvallers vermoor en vermink word? Hy het gesê die regering behoort liewer te probeer om wetsgehoorsame burgers te bewapen sodat die geweldige ontploffing van misdaad in Suid Afrika na 1994, hokgeslaan kan word. Dit is tog ‘n duidelik bewys dat die SAPD nie kan nie of nie die wil het om misdaad suksesvol te bekamp nie.

SAPD MAAK GELD SOOS BOSSIES?
Mnr. Spanio het sy kommer uitgespreek nav gerugte wat die rondte doen dat die SAPD 150 Euros ontvang vir elke vuurwapen wat vernietig word. Waar sou die geld heen gaan? Meer nog, watter instansie of land sal hul skuldig maak aan die ontwapening van wetsgehoorsame burgers in ‘n land wat as een van die mees gewelddadigste in die wêreld gesien word?

Mnr. Jan Viljoen het gesê die wet en veral die huidige optrede van sekere SAPD lede is kwaadwillig en skend basiese menseregte. Hy het gesê dat TLU SA Noord besig is met aksies om lede van georganiseerde landbou asook ander lede van die publiek te beskerm teen kwaadwillige en onregmatige optrede van die SAPD.





....................................................................................
Mnr. Dries Joubert
Voorsitter: Kommunikasie