Monday, November 23, 2009

Gert Opperman se wanvoorstelling van die waarheid.

Na aanleiding van die berig in Beeld op 19 Nov 2009: “16 Desember: ‘Geen ontwrigting geduld’”, rig die Pretoria Verkennersjeug graag 'n versoek aan Gert Opperman, HUB van die Voortrekkermonument, om by die waarheid te bly wanneer hy publieke verklarings maak.

Die Pretoria Verkennersjeug is nou keelvol vir die voortdurende verdraaings van die waarheid wat deur Gert Opperman verkondig word ten einde sy swak saak in die publiek te regverdig. Deur die verspreiding van wat ons beskou as blatante leuens en halwe waarhede skep hy verskeie wanindrukke.

Opperman se verklaring dat die Pretoria Verkennersjeug buitelands besoekers beledig het, is ‘n blatante leuen. Daar was geen buitelandse besoekers tydens die geskenkwinkelaksie teenwoordig nie. Indien hy hierdie leuen nie self geskep het nie, moet hy in die vervolg seker maak van die feite wat hy ontvang voor hy dit in die publiek verkondig.

Die vergadering wat vir Saterdag 14 November by die Monument gereel was, was ‘n inisiatief van Orania se jeugbeweging. Opperman het egter die indruk geskep dat dit die Pretoria Verkennersjeug en/of Bravoland was wat hierdie vergadering gereel het. Dit het hom so gepla dat hy vir ‘n regsverteenwoordiger opdrag gegee het om alle Verkenners te verban van die Voortrekkermonument en Bloedrivier. Die Verkennersjeug en Bravoland is as gaste genooi saam met verskeie ander vryheidsgesinde jeugorganisasies. Ons dink eerder Opperman wou die vergadering in sy geheel kelder, omdat hy hom deeglik van ons volk en sy vryheidstrewe gedistansieer het.

Wat die sluit van die hekke tydens die 60-jarige bestaansherdenking betref het Opperman weereens net aangeneem dat dit die Verkennersjeug is. Weereens het hy nie seker gemaak van sy feite nie.

Dit is opvallend dat Opperman poog om van hierdie kultuur saak, ‘n politieke saak te maak, deur na die Pretoria Verkennersjeug as “regs” te verwys. Mens kan seker aanneem uit hierdie uitlating van Opperman dat hy homself as “links” beskou en dit wil verkondig aan die wêreld. As “regs” dieselfde as volksgerig en behoudend sou beteken, is ons trots op die etiket wat Opperman aan ons gegee het. Dit sou egter beteken dat “links” dieselfde beteken as “volksvyandig” en mens kan maar net wonder of Opperman net so trots sal wees op hierdie etiket wat hy aan homself gegee het.

Dit is egter hartseer dat Opperman telkens politiek by die Voortrekkermonument en Bloedrivier moet insleep en dit is net so hartseer dat hy sy eie politieke voorkeure op die Voortrekkermonument en Bloedrivier wil afdwing. Sy poging om verlede jaar se Gelofteherdenking by Bloedrivier in ‘n Versoeningsdag viering te verander, is ‘n sprekende voorbeeld van hierdie feit. So ook sy alewige integrasie pogings by die Voortrekkermonument, soos die sanger uit Soweto wat Boereseun gesing het tydens die 60ste herdenking van die opening van die Voortrekkermonument en die kleurling model wat halfnaak op die senotaaf afgeneem is. Polities gemotiveerde integrasie van hierdie aard, sal lei tot die kulturele disintegrasie van die Afrikaner en mens kan maar net wonder of dit Opperman se plan is.

Ten slotte moet Opperman kennisneem dat die Afrikaner NOOIT bloot sal toekyk terwyl sy erfenis vertrap word nie. Die verset teen die vertrapping sal aanhou en geen dreigemente sal dit stop nie. Opperman moet vir sy eie onthalwe ook nie die wanopvatting koester dat dit net die Verkenners is wat hierdie verset instand sal hou nie, dit mag hom nog baie ontnugtering in die toekoms besorg.

Mag die volksgerigde Afrikaner homself egter altyd by die waarheid hou, selfs wanneer hy verset pleeg.

Werner Smook

Pretoria Verkennersjeug

------------------------------

Monday, November 9, 2009

Projek 2010

Daar word beraam dat reeds soveel as 20 000 Afrikaners vermoor is sedert die ANC aan bewind gekom het in 1994.
Tans is daar 'n projek aan die gang om hierdie name te lys, net soos die name van ons volk se 27 000 vroue en kinders wat onder die Engelse bewind vermoor is, gelys is as deel van ons volk se historiese geheue.
Ons mag nie ons mense wat vermoor is, vergeet nie. Daarom is dit noodsaaklik dat elkeen van hulle se name gelys en onthou moet word vir die toekomstige geslagte.
Dit is 'n groot taak, en amptelike instellings wil geen samewerking gee nie. Daarom word almal gevra om te help om hierdie besonderhede bymekaar te maak.
Gaan besoek asb. www.projek2010.co.za en help met die bymekaarmaak van die data.
Stuur asb. hierdie e-pos ook aan ander volksgenote, landwyd en ook die wat na die buiteland is juis as gevolg van hierdie wantoestande, sodat hierdie projek momentum kan opbou. Daar word gepoog om hierdie databasis op 10/10/2010 te voltooi.