Saturday, January 24, 2009

Geert Wilders na Suid-Afrika genooi

Geert Wilders na Suid-Afrika genooi
Die Oostenrykse parlementslid van die Vryheidsparty, Susanne Winter, is skuldig bevind aan beweerde haatspraak teen Moslems.
In Nederland het die nasionale vervolgingsgesag in Amsterdam aangekondig dat die leier van die Nederlandse Partij voor de Vrijheid (PVV), mnr. Geert Wilders, ook vervolg gaan word vir sogenaamde anti-Moslem-uitsprake.
Die Verkennersbeweging, wat homself op Christelik-nasionale grondslag stel, is bekommerd oor hierdie tendens, omdat Moslems deur hierdie optrede nog meer radikaal sal word, en dit uiteindelik 'n bedreiging vir die Christendom kan inhou.
Die Verkenners het meegande brief aan mnr. Wilders gestuur, waarin steun aan hom toegesê word, en waarin hy uitgenooi word om Suid-Afrika te besoek om sy film oor die Islam en die Koran, "Fitna", in Suid-Afrika te kom vertoon, en sy ervaring met betrekking tot die Islam en sy stryd daarteen, te kom deel op openbare vergaderings wat die Verkenners landwys sal aanlê.
Die volledige brief aan mnr. Wilders lui:

----------------------------------------------------------------------------------------

Geagte Meneer Wilders

Ons organisasie staan op ‘n Christelik-Nasionale grondslag, as basis vir ons oortuigings en optrede.

Met dit as uitgangspunt wil ons u verseker van ons ondersteuning in u stryd ter bewusmaking van die gevare van die Moslem-fundamentalisme vir die wêreld.

Daarom het ons met waardering kennis geneem dat u, ten spyte van alle dreigemente en aanslae, steeds voortgegaan het om die film “Fitna” te maak, waarin u uitstekend geslaag het om die werkswyse en die ware Moslem-karakter uit te beeld.

Die laaste dae het ons, saam met ander nasionaliste regoor die wêreld, met groot ontevredenheid kennis geneem van die Nederlandse Vervolgingsowerheid se besluit om u te vervolg vir beweerde anti-Moslem uitsprake. Insgelyks het ons met kommer kennis geneem van die reuse boete wat mev. Susanne Winter van die Oostenrykse Vryheidsparty opgelê is vir soortgelyke aanklagte.

Dit sal waarskynlik net petrol op die Moslem-vuur wees om nog meer radikaal en uitgesproke te wees, en ons glo, ook ter behoud van die Christelike beskawing en leefwyse, dat internasionaal saamgewerk moet word teen die Islamisering van die samelewing. Daarom kan u op ons steun reken.

Ons het egter ook kennis geneem dat u ook in ander lande Fitna vertoon, waartydens u dan ook verdere inligting verskaf. Ons sou u graag wil uitnooi om ook Suid-Afrika te besoek, om Fitna ook hier te vertoon en ons mense verder toe te lig. Ons sal verkeie byeenkomste kan reël regoor die land, terwyl u ook ons mooi land kan besigtig.

Indien u ons uitnodiging sou aanvaar, kan verdere besonderhede uitgewerk word.

Sterkte intussen met u stryd, veral ook met die naderende vervolging en hofsaak.

Ons verneem graag van u.

Vriendelike groete

Henk van de Graaf

PRESIDENT